Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 30 DESEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Ken Tremeer, ZS2BWB, ‘n lid van die PE Amateurradiovereniging (PEARS) en die SARL, op Saterdag 22 Desember oorlede is.

Ons innigste meegevoel gaan aan sy se familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RTA 2008 FOKUS OP HUIDIGE STAND VAN TEGNOLOGIE

SA AMSAT SE 2008 RUIMTESIMPOSIUM SAL IN DURBAN GESKIED

HET JY NA DIE SPESIALE BAKENBOODSKAPPE GELUISTER?

NUWEJAARSGROETE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RTA 2008 FOKUS OP HUIDIGE STAND VAN TEGNOLOGIE

Die huidige stand van die tegnologie sal in oënskou geneem word tydens die eerste aanbieding wat in Kaapstad op 8 Maart 2008 gedoen sal word. Datums vir die ander sentrums is: KwaZulu Natal 10 Mei, Oos-Kaap 31 Mei en Gauteng 13 September 2008.

Van die tegnologieë wat onder bespreking sal kom is WiFi in amateurradio’ spreispektrumkommunikasie en voortplantingsnavorsing. Ook sal ‘n paneelbespreking op hoëvlak plaasvind oor wat die toekomsverwagting vir amateurradio sal wees.

Hou www.sarl.org.za dop vir dikwelse opdaterings wat gedurende Januarie sal begin, maar, meer belangrik, noteer die datums, aangesien jy nie een van die aanbiedings wil misloop nie wanneer dit naby aan jou sal geskied nie. Inligting op die SARL se webblad sal onder die opskrig “Activities” verskyn.

SA AMSAT SE 2008 RUIMTESIMPOSIUM SAL IN DURBAN GESKIED

SA AMSAT se Ruimtesimposium sal op 19 April 2008 op die kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal plaasvind. Voordragte word vir aanbieding ingewag. Die sluitingsdatum vir ‘n opsomming is 15 Februarie 2008. Gekeurde sprekers sal binne ‘n week daarna van aanvaarding van hulle voorgestelde voordragte in kennis gestel word. Finale voordragte, gereed vir publikasie, moet nie later as 31 Maart 2008 ingedien wees nie. Opsommings en finale lesings moet in MSWord-formaat ingedien word. Outeurs word versoek om vordragte in skrif sowel as Powerpoint-aanbiedings in te dien. Stuur voordaragte per e-pos aan saamsat@intekom.co.za.

Opdaterings aangaande die konferensie sal vanaf vroeg Januarie 2008 op www.amsatsa.org.za beskikbaar wees.

HET JY NA DIE SPESIALE BAKENBOODSKAPPE GELUISTER?

Die SARL se bakenkompetisie loop op 19 Januarie ten einde. Luister uit vir ZS6SRL, ZS2LAW en ZS1HMO en stuur julle rapporte aan bcn@sarl.org.za. Volledige besonderhede aangaande die kompetisie, sowel as interessante leesstof is op die SARL se webblad beskikbaar. Gaan na www.sarl.org.za, klik op “Activities” en kies die bakenprojek. Met deelname staan jy ‘n kans om een van drie DX-handboeke of ‘n 2007 ARRL-handboek te wen.

NUWEJAARSGROETE

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Radioliga wens alle radioamateurs ‘n voorspoedige en gelukkige nuwe jaar toe. Mag 2008 vir almal baie ure van plesier met met julle amateurradioaktiwiteit besorg.

Aan die SARL-lede ‘n spesiale woord van dank vir u deurlopende ondersteuning aan die Nasionale Liggaam vir Amateurradio. Met julle ondersteuning is dit vir die SARL moontlik om die stem van amateurradio hoorbaar te maak waar dit saak maak, dit is op reguleringsvlak. Indien u nognie ‘n ondersteuner van amateurradio is nie, maak dit u nuwejaarsvoorneme om by die SARL aan te sluit. Besonderhede en aansoekvorms is beskikbaar by www.sarl.org.za.

RADIOAMATEURS KOM TOT REDDING IN ANDER WêRELDDELE

Wat volg is uittreksels uit WIANews aangaande hulp verleen deur amateurs van nooddiensgroepe in ander dele van die wêreld.

Hawaii is gedurende 4 tot 5 Desember deur uitermate koue en windstorms getref met gevolglike verlies van kragtoevoer en telefoondienste aan verskeie eilande. Die Nasionale Weerdiens het die herhalerstelsel van die Noodamateurradioklub gebruik om stormweerinligting gedurende en na die storms deur te gee.

Storms in verskeie ander dele van die VSA het ook daartoe gelei dat amateurs ‘n essensiële gemeenskapsdiens verrig het. Die staat Washington is deur windstorms van oor 180 km/u en reën in strome getref wat ernstige oorstromings tot gevolg gehad het. Lede van die Amateurradio Nooddienste het kommunikasie aan verskeie operasies en ontruimingsentrums voorsien. Hulle het selfs sandsakke gevul en telefoonpunte beman. In die “Pacific County” was aamteurradio die enigste betroubare middel van kommunikasie nadat landlyn- en selfoonnetwerke die gees gegee het.

In Oregon het selfs die polisie probleme ondervind om met van hulle lede kontak te maak, maar amateurradio het gewerk en kommunikasie tussen noodpersoneel moontlik gemaak. Die Goewerneur van die staat, Ted Kulonggoski, het gesê: “Die helde was die amateurradio-operateurs. Hierdie mense het ‘n uitmuntende kommunikasieskakel vir ons verskaf”.

Gelukkig kom hierdie gebeurtenisse baie minder hier by ons in die RSA voor, maar onlangs het ‘n herhaling van die Laingsburgvloed byna plaasgevind, wat illustreer dat ons steeds waaksaam moet wees en gereed moet wees om ons dienste aan te bied. Die manier hoe om dit te doen is om by HAMNET aan te sluit.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag tot laag gaan wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 6 tot 8 Januarie wanneer onrustige toestande verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos en Noord-Wes paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 - openinge na Australië vanaf ongeveer 14:00. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, flou 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog steeds kan verras. Wie weet, dalk bring die nuwe jaar sakke vol kontakte? Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Januarie 2008 - NARS heropen;
21 Januarie - Sluitingsdatum van SARL-HMO-bakenkompetisie;
26 Januarie – BACAR-vergadering om 11:00 by NARS;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Namens die nuusspan sê ek baie dankie vir almal wat nuusitems ingestuur het, sonder u bydraes kan daar nie bulletins wees nie en u ondersteuning gedurende 2008 sal weereens waardeer word. Ook baie dankie aan al die nuuslesers en herleistasies, waarvan daar ‘n aantal gedurende hierdie jaar bygekom het, vir julle bydraes. Aan luisteraars, intekenaars, ja almal ‘n voorspoedige 2008, ons vertrou voortplantingstoestande gaan verbeter, geniet dit in die komende jaar.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003